Friday, May 20, 2011

Om te Kerk of nie te Kerk nie

Moet die woord 'Kerk' nou wel in Hoofletters geskryf word? Dis die eerste vraag wat ek vir myself wil afvra as ek so na die opskrif kyk. Want kyk, wat is 'n kerk, waarna ek dan so peities na verwys in my opskrif.  Is dit nie maar 'n gebou van klip en klei en steen en strooi, waarin ons so graag ons God en ons gode wil aanbid nie?  'n Werk deur mensehande gemaak?  Want kyk, spreek die Here, Ek woon nie in geboue deur mensehande gemaak nie, maar in julle harte, daaardie diepste van julle wesens waar net Ek kan sien. (My parentesis)

Dan die groot vraag:  Wat se vraag is DIT dan nou?

Ek het hierdie vraag vir myself afgevra nadat ek nou al 'n paar dae/weke/maande lank die gespreksforum van 'n groot pinkster gemeente volg, waarin gedebateer word of die Kerk/die Plek/ die Mense reg of verkeerd is in hulle handelswyse van die afgelope dekade of meer.  Die geslagsregisters in die ou Testament is op hierdie stadium vir my meer interresant as die lang uitgestrekte motiferings vir en teen die arme 'Kerk', en die maalkolke wat ek nou onlangs op die Oranjerivier beleef het, het meer sin in gehad as die sterkste van die dialoe van die belangstellendes.

Hoe amper wou ek my (arme) stuiwer in die armbeurs gooi, maar ek dink my opvoeding staan hier sterker as my geloofsoortuigings.  So-by-so was my gedagtes so sterk in die debat (of dit nou vir of teen is is debateerbaar), dat my vingers kromgetrek het van nie weet waar om te begin nie, terwyl hulle oor die toetsbord gehang het.

Tog moet ek erken , dat die magtelose gevoel van teleurstelling in die oningeligtes se 'feite' en my medelye met die ingeligtes se ervarings in die 'Kerk', het 'n wrang smaak van hier-is-groot-fout in my maag en in my mond gelos het.  Ek dink Jesus het verwys na 'eindelose strydvrae', maar tog is hier soveel meer ter sprake.

Sonder 'n lang relaas, wil ek net vra:  Wat doen mens as jy WEET die plek van aanbidding, waar jy jou grootste deel van jou geestelike lewe deurgebring het, nie is wat dit moet wees nie, en jy weet nie hoe om die oningeligtes daaroor te waarsku nie.  Hulle is dan so opreg in hulle aanhang/toewyding/lojaliteit aan die plek/Kerk/beweging/of wat ook al, dat jy nie DURF raak aan hulle heiligdomme nie!

Sal ek verwaand wees as ek sou se dat dit makliker is om 'n  Katoliek te oortuig dat die Roomse kerk die Groot Hoer is waarvan Johannes in Openbaringe na verwys, as om die lojale aanhangers te waarsku van hulle 'Kerk' se dwalinge?  Hoe gou is mense nie om te se: "Haal jou oe van die MENSE af" sonder om te besef dat die MENSE die enigste spieel is waardeur die wereld die GODheid kan raaksien?  As die oog dan duister geword het, hoe diep is die duisternis dan nie?  Wanneer on ligste ligstraal soos 'n kolesak in die melkweg hang, hoe duister is die duisternis daaragter dan nie?  Waar is die Pauluse van ons tyd wat nog met 'n oop gesig kan se:  "Kyk na my, want ek lewe soos Christus lewe"  Hy MAAK homself 'n wandelende advertesie vir die grootheid van die Godheid.  Tog is die profete van ons tyd die eerstes om hulle gemeente te waarsku:  Moenie na my kyk nie - ek is slegs lippe van klei, 'n  swakkeling, feilbaar!  En die lig-donkerte word net nog donkerder.

 En ek?  Sal ek my dan tot struikeling bring deur die onvermoe van my (geestelike) leiers om my te lei?  Hoe wonderlik dat God my geskape het met die vermoe om te onderskei, te kan kies, en met hierdie wonderlike verstand van my keuses te kan maak met die nugterheid wat aangehelp word deur die inspirasie van Sy grote Liefde en Soete Heilige Gees.  Sal ek in die duisternis rondtas en vra:  Waar is die Lig?  Nee, nee, tienduisend maal nee!!  Ek sal my oe oopmaak en opkyk na die Lig, van waar my hulp en leiding kom............

Want dan hoef ek nie meer te Kerk, of NIE te Kerk nie.  Daar is nie plek in Sy Liggaam vir 'n Kerk nie; vir Leerstellings of Ideologie nie.  Net Kinderlike Nederige Gehoorsaamheid.  Dit is die 'Kerk' wat Hy vir ons voorgehou het hier op aarde.  En sodra my voorgangers nie daardie pad volg nie, hoekom moet ek hulle dan navolg, of na hulle luister?

Al is hulle soorde en preke hoe mooi..................

1 comment:

  1. Bravo Roan !!! - dat jy uiteindelik hier uitgekom het alhoewel ek jou reis met belangstelling dopgehou het en geweet het Jesus die Sterke Leidsman bring mens nie op dwaalweë nie.
    Terug na die vrou by die put se vraag :-
    Joh 4:20 Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. v:21 Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.
    Dis waar - 'n mens moet nie jou oë op mense gerig hou nie, want dan sal mens hulle valse leringe slaags navolg.
    Voorspoed - want die wat soek sal vind.

    ReplyDelete