Wednesday, November 3, 2010

Eienskappe van die Christelike karakter

Uit: Die brief aan die Filippense

Paulus, wat aan die einde van sy lewe staan, skryf 'n vaderlike, liefdevolle brief aan die Filippense, waarin hy die karaktereienskappe van 'n volgeling van Jesus die Christus vir hulle voorhou.  Dit is vir my so treffend dat hy sy brief eindig met die vlg: "Wat julle geleer, ontvang, gehoor, in my gesien het, doen dit, en die God van Vrede sal met julle wees" (4:9)  Hy hou dus nie net waardes voor nie, maar verklaar dat hy as voorbeeld gehou kan word in die uitleef daarvan.  Wat 'n persoonlike getuienis!

Paulus begin in hoofstuk 1 met 'n gebed vir sy kinders in die geloof, waarin hy bid om die versterking van hulle geloof en in die eienskappe wat hy aan hulle voorhou, en gaan oor in v.27 met 'n paar liefdevolle waarskuwings:

a)  om waardiglik te wandel vlgns die Evangelie van Christus;
b)  om standvastig en beslis te bly in hulle oortuigings;
c)  om in eenheid saam te staan;
d)  en onbevrees te wees vir die teenstand wat hulle heel moontlik vir hulle geloof sal ontvang

 Dan begin hy aan hulle die karakter eienskappe voorhou wat onderskei kan word van die Vrugte van die Gees, wat alleen van die Gees van God in 'n mens ingeplant word, teenoor hierdie eienskappe wat 'n beoefening en ontwikkeling van 'n goddelike karakter bewerkstellig:

1)  Eensgesindheid  (2:1)
2)  Onselfsugtigheid  (2:3)
3)  Nederigheid  (2:3)
4)  Diensbaarheid  (2:4)
5)  Eie heil uit te werk  -  met vrees en bewing (2:12)
6)  Gewilligheid  (2:14) "...sonder murmurering en teespraak, deur vas te hou aan die woord van die  lewe" (v16)
7)  Blydskap (in die Here)  (3:1)
8)  Totale oorgawe  (3:7)
9)  Toekomsvisie (3:14)  "vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voor is"

Dan kom 'n samevatting, en soos die gebruik in daardie tyd, as jy die belangrikheid van iets wou nadruk, het jy dit herhaal:

1.  Blydskap in die Here  (4:4)
2.  Vriendelikheid
3.  Onbesorgd, deur gebed en smeking met danksegging
4.  En dan:
    Alles wat WAAR is,
    Alles wat EERBAAR is,
    Alles wat REGVERGIG is,
   Alles wat REIN is,
   Alles wat LIEFLIK is,
   Alles wat LOFLIK is,
                 Watter deug en watter lof daar ook mag wees, BEDINK DIT !


En dan maar net weer as bevestiging, kan Paulus sy eie lewe voorhou as voorbeeld, want hy weet dat hy in Christus geleef het, en sy lewe NA Christus gewys het, deurdat hy al hierdie dinge beoefen en uitgeleef het teenoor almal:  ja, selfs die wat hom mishandel, bewaar het in die gevangenis, en op die einde ook gekruisig het.  Wat 'n liefde!  Wat 'n lewe!